Kom ons begin heel voor: Ons het groot geword met Tuks FM, ons het in die oggende op pad skool toe na Tuks FM oorgeskakel toe ons in die kar klim (sonder dat die ouers enige idee gehad het dat ons so skelm was) om net ‘n bietjie rock in ons ore in te kry – voordat dit weer oorgesit word na die Pers-stasie toe die ouers dit uiteindelik agtergekom het. Ons het ‘n vuil kyk gekry van pa, maar dit was die moeite werd. Ons het op naweke, voordat ons die Quart-loop gedoen het, gou op Tuks FM gesit want die musiek het ons sommer meer ge-amp om bietjie te gaan kuier en baljaar, en vir ‘n oomblik jou en alles om jou se bestaan te vergeet en vry wees. Tuks FM was vir ons soos ‘n ouer broer wat jou oor die lewe (musiek) geleer het, en gewys het wat is “cool” en wat is tans kak in die musiekbedryf. Eerste indrukke bly staan. Hy het ons goed groot gemaak, en ons hou by die ideale wat lank terug geplant was.

Dit is hoe ons Tuks FM onthou. Ons het alles geluister wat daar op was; van die vrek snaakse Disc Jockeys, tot die harde musiek wat jou nek probleme gegee het op sekere aande. Bobblehead se moer, ons koppe kon vinniger beweeg. Ons haat dit om dit te sê, maar dit was die “goeie ou dae” van Tuks FM. Ons kon net kyk hoe alles vergaan met tyd.

82459-will-ferrell-NO-gif-Elf-URx3

Wat het van julle geword, Tuks FM? Het die tye julle so ingehaal? Daar was talle DJ’s oor die jare, elke ene wat op hul unieke styl uitgesaai het. Daar was ‘n paar merkwaardiges wat ons kan onthou: Rob Forbes en PJ in die oggende, Samson later deur die dag, en wie kan Pappa Liefde vergeet? Daar was talle ander wat ons “groot gemaak het.” Ons kon wegraak in die oomblik, maar daardie dae is duidelik nou iets van die verlede. Laas jaar het ons Nick en sy spannetjie geniet wat in die oggende uitgesaai het, hulle het ons elke oggend laat giggel oppad werk toe. Nie eers die taxi wat voor ons inry kon ons onder kry nie. Maar deesdae kan ons nie eers langer as 10 minute die radio op 107.20 hou sonder om een van julle werknemers reg te help met orkes name nie, of selfs die mense se name in die nuus. Ons weet van die name kan ingewikkeld raak en so little time to get the right words out, maar genugtig! Om blatant ‘n naam so verkeerd uit te spreek dat jy sweer die persoon het sommer nou die Magaliesberge gevloek in Mandarin.

Ons kom nou by die skielike musiek beweging wat almal oor mor. Tuks FM was die enigste alternatiewe stasie in Suid-Afrika, julle adverteer dit immers so? With that said, ons gaan ‘n aar bars as ons weer Adele hoor tussen The December Streets en Taxi Violence. Dis aaklig om te sien hoe die skaap-mentaliteit julle kry. Hoe kry julle dit oor julle harte om dit aan ons te doen, ons was pligsgetrou, ons het julle ondersteun deur dik en dun, maar dalk is ons nou opsoek na die waarheid op verkeerde plekke.

Die meerderheid van jul luisteraars is ook nie gelukkig met die nuwe musiek-lyn waarin julle nou beweeg nie, julle maak sover net julle radio-tone nat met “nie-alternatiewe” musiek, maar gaan dit dieselfde wees oor ‘n paar jaar? Dit is ons voorland en ons vrees. Wat gebeur oor ‘n paar maande, wanneer ons 80% pop hoor, 15% advertensies en 5% alternatief? Gaan ons nog dans as dit donker raak as ons inskakel op Tuks FM?

Ons hou nog van julle Tuks FM, julle is net tans a trophy that’s lost its shine vir ons ore. En ons is verbitter deur jou ervaring die afgelope paar maande. So, kom ruk julle self ‘n bietjie reg, en rock weer uit! Behoorlik!

PS: Hou asb Beyonce en Adele uit ons ore uit, as ons dit wil luister, sal ons self die albums gaan koop.