My liewe STRAB

Ek wil net graag u bedank vir die ervaring  so paar weke terug. Ek was nog nooit in Mosambiek nie, en was ‘n maagd vir jou… jy het my darem mooi opgepas. Sien, ek was al by talle ander feeste in Suid-Afrika en STRAB was vir my ‘n hele nuwe uitdaging. Niks stof nie, niks tawwe tienies wat maak asof hulle baas van die plaas is nie, fokkit. Dit was ‘n ervaring en ‘n half. Ek probeer nogsteeds die seesand uit my tent te kry.

Ons het vroeg uit Snor City vertrek soos die meeste van julle. Ons A-Team was Baas de Beer, Tyron Long, Justin Lee, Shané Mc Mahon, Arné DunckersBraaiboy en ek. Ons was ‘n span wat skrik vir niks, behalwe gebarste bande langs die pad – daai is bollies! Ons het soos die ander ons bussie op die grens gelos, en met al ons bagasie op ‘n 4×4 geklim waar ons soos Raboebie aan die kant gehang en Mosambiek se paaie aangedurf. Goeie tye! Daar was al klaar baie ander tente… wil julle rerig my ervaring hoor? Nah. Kom ons klim liewers dieper in!

FB_IMG_1465384345481

Kom ons begin met die feesterrein, daar was hordes tente al opgeslaan, so uit Lord of the Rings se battles uit – sommer in die sand en tussen die bome. Almal reg vir ‘n befokte naweek op die strand met goeie musiek en liters R&R. Die eerste aand was die Neon Beach party: car guard hempies was in almal se voorland, asook glow sticks. Dankie vir die dame wat dit uitgedeel het, jy was ‘n yster! Moerse bonfire, lekker tunes, en die see in die agtergrond. Piele! Die bands speel op die strand, die wind waai alle pretensies weg en STRAB is behoorlik aan die gang. Daar is selfs ‘n meneer wat met vuur speel op die strand, wou nie te naby kom nie, my asem sou ‘n strand brand veroorsaak. Hard gedans, hard R&R verslind, en hard met ‘n babelas wakker geword. Die see is mos net hier langs my, glip in en was al die sondes af, moet net nie wieps in die water nie dink jy hardop in jou materiaal huis – wil nie haaie lok nie. Maar dit reën lieflik, die see is buite die kwessie. Dit reën erg kom jy actually agter, en nie motreën nie, dit sous soos nog iets. “Ouens! Klim op die bakkie, bring jou hoodie saam. Ons gaan nou Mosambiek verken”  Pub-crawl asof jy gebore is om dit te doen. Fernando’s, Sunset Bar en die Blou Bul bar sorg vir ietsie in die keel. Dik party vibes orals. Die reën is sommer nou jou tjommie, en jou tent ‘n rivier. Terug by STRAB, die aand is nog jonk.

FB_IMG_1465384581370

Die aand begin met ‘n bier die keer, R&R het so effens van ‘n babelasie hasie nasmaak. Begin by Die Kaalkop Waarheid, en Panjo the Missing Tiger. Jy swaai jou lyf in die crowd en vergeet van al jou horries en warries by die huis. Fok my huur.  Akkedis bring jou terug aarde toe, nie om weer behep te raak oor jou sorges nie, maar om bietjie mal te gaan in die sand. Die R&R trein is terug op die stasie, en jy sit voor in koor. Die aand raak bietjie van ‘n blur, jy weet net Cutting Jade het jou nostalgies gemaak en die Acoustic Deck is waar jy gedans het na die tyd. Jy het vriende ontmoet en vergeet. Die trappe was amper soos ‘n hindernis baan kan jy vaagweg onthou, een trap op, drie af – repeat… die res gaan met tyd weer terugkom.

Wakker en bly die son is vandag uit. Strand toe mars! Bakkies word uit die sand getrek met trekkers, manne loop rond met hoenderborsies op die strand en bier word gesluk. Die Acoustic Deck vibes breek aan, jy sit met ‘n R&R voor jou, smoke in die bek en musiek word deel van die siel. Akoesties en tokkel sommer weer die hartsnare. Almal luister, klap hande en deel in die atmosfeer. ‘n Beter uitsig kan jy nie voor vra nie. Musiek voor jou, mense om jou en die see in die agterkant. Pik sommer ‘n emmer vol trane. Janie Bay, Naas Veld en Quinton Kook het die gehoor aan die gegons maar Akkedis se “Irish Set” laat die deck beweeg soos Sun City se Bridge of Time. Almal lag en jou wange voel of dit nou ‘n wedloop voltooi het. Vol pyn maar jy glimlag soos JZ na ‘n security upgrade.

FB_IMG_1465384631058

Main stage toe vir die aand! Die Rock dames – Saarkie – klap STRAB vir ‘n ses. Die drie kan maar hoor! Die gehoor voor die stage word groter en jou gat begin al meer te beweeg op die ritme. REFILL TIME! Sommer ‘n bier en ‘n R&R, ons is mos in Mosambiek. Brannas kan wag tot later. The Barbosa Experience is wild en maak sommer talle nuwe fans, WONDERboom vat jou terug na jou Hoërskool dae en The Black Cat Bones sluit die main stage, jy het kopskud klas bemeester – jy wil nog makietie, jy vat die Groot Trek Acoustic Deck toe. Jy sweer hulle het meer trappe gebou as wat daar vanmiddag was. No worries, jy is daar bo en almal vier fees. Selfs Scuba Steve is in die mix, langarm saam ‘n kalant in ‘n beanie.

Laaste dag, kom ons gaan groot! Moerse hoofpyn en al. Dis die “blues” dag, jy kan nie wag nie. Kos in jou keelgat en die strand is manna. Acoustic Deck toe skree jy soos Sersant STRAB! Andre Kriel, Roan van As en Silver Creek Mountain Band laat jou sommer vergeet van daardie hoofpyn. Jy gaan mos nie dat ‘n klein kopseer jou onder kry nie. Die deck is weer gepak en jy soek ‘n smoke, jy kan mos nie musiek kyk sonder ietsie vir die longe nie. Aan die einde van die opvoerings skiet jy weer af na die Main verhoog toe. Die aand is nog ‘n vulletjie en dit is die laaste keer wat jy dit gaan beleef vir die jaar. Party kwadraat is wat tans op jou brein is.


FB_IMG_1465384990543

Jonathan Peyper looi hulle set, Jason gaan bos op die dromme en jy weet sommer in jou kuite dat vanaand vir die boeke gaan wees. Bright Lights Big City en Jack Hammer own die verhoog na Peyper-hulle. Jack Hammer is al ‘n legende in die musiekbedryf en dis nie moeilik om te sien hoekom nie. Ou tunes met ‘n paar nuwes. “Donner, dis lekker”, dink jy! Die Capital Craft en Striped Horse manne hou die keelgatte nat aan die kant, almal staan en bewonder die skouspel wat ons tans beleef in Mosambiek.  Jy lag in jou binneste vir al die mense wat tans in Suid-Afrika is, en kyk hoe die Bulle verloor. Laaste op is Albert Frost, en sekerlik die perfekte einde tot STRAB. Jy kan nie beskryf hoe asemrowend hulle was nie, jy probeer, maar al wat jy uitkry is “befok verby”

IMG_7263

Dis laataand, daar is nog mense wat kuier op die Acoustic Deck. Jy is pootuit, jy bene wil nie meer werk nie, jou R&R glas is leeg, jy is vrot. Jy wandel terug na jou tent, jy hoor hoe die mense om die vuur sit en praat oor STRAB. Oorlog stories en so aan. Jy wil aansluit maar jy kan nie meer nie, voete bestaan nie meer nie, kop is al op die border. Jy klim in die tent, gee jouself ‘n high five en sê, “tot volgende keer”

STRAB was sekerlik een van die beste feeste wat ek al beleef het. Die strand, see en die artists was op ‘n tikkie. Dankie aan Conrad, Hanna, Andries en die ander mense. Julle het dit genail! En dank aan Sledge vir die lifts en die keppies.

 

Photos by Justin Lee Photography

FB_IMG_1465384656398