En toe was daar vier... Fokofpolisiekar het hulle vierde bier, Skyn Heilig Weiss Bier, die naweek vrygestel by RAD in Tjoerras. Ek was nog nooit daar nie, en het nie regtig geweet wat om te verwag nie. Al wat ek geweet het is as Fokofpolisiekar daar is, gaan dit een moerse show wees… Ek kon nie meer reg gewees het nie.

RAD is ‘n redelike nuwe venue in Pretoria-baai; die kroeg is goed gestock, en daar is ‘n paar pool tafels. Maar dit was kak moeilik om die plek te kry. Twee keer om dieselfde blok, en toe amper in Recess vir ‘n raver party. Fokken naby aan horries en donners baie glow-sticks. Maar darem nie. Ons is in RAD en het so paar bekende gesigte gesien. Skyn Heilig was in ons voorland! Ons het met die manne van Sayōnara, en Feed the Wolf bietjie kak gepraat terwyl ons die Bende se nuwe bier in ons gesigte in gegooi het. Maters, dit was regtig lekker! “Graag gaan ek so paar koop vir die huis” sê ek vir myself, maar ek weet dit gaan in een dag in hierdie maag verdwyn. Want in die Norfff is ‘n bier wat langer as een dag in die yskas staan – groente.

Terug by die bier, dit is ‘n Weiss Bier en was op almal se tonge en lippe. Al die bier wat hulle in ‘n ysbad aangebied het om te proe het seker twintig minute gehou. Fotograwe, bloggers, en musikante het dit fokken geniet. Dit was ‘n voorsmakie van wat later die aand nog gekom het. Ek wou nog vat, maar wil nou nie my Noord-maniere so erg laat uitstaan het nie.

I AM het die opvoering begin met hulle kenmerkende styl, en het sommer ‘n hele paar nuwe fans gekry. Dis ook waar mense agtergekom het dat jy nou al moet voor staan om die Bende te beleef later die aand. Die verhoog area was meer beknop as Ringo van Coke se velle. Maar dis hoe dit moet wees. Musikante soek moer baie mense wat vir hulle kyk, mense wat skree en rondhop as jy op die verhoog is. Dit maak net ‘n optrede soveel beter. Sayōnara en Feed the Wolf het ook die gehoor se ore met Rock ‘n’ Roll betree. Daar was hande in die lug, gelukkige gesigte voor die verhoog en fokken baie Skyn Heilig bier wat verorber was in die crowd. Manewales het uitgebreek en rook was orals in lug – die optredes deur die twee was aan die brand!

Na ‘n rustige periode was dit die Bende se beurt om te wys dat hulle nog een van die bestes is wat Suid Afrika opgelewer het. Ek voel soos ‘n kind op Kersfees voordat ek persente oopmaak elke keer voor ek Fokofpolisiekar sien. Ek weet wat ek kan verwag voor die optrede, maar fokkit, as hulle eers begin dan is ek weereens weggeblaas. My brein is op ‘n Fokof-planeet, my arms moet rondbeweeg, my kop lyk soos ‘n bobblehead op roids, en my bene beweeg in onheilige maniere. Die Bende lok dit uit jou uit! Geen sorge, geen worries, net fokken good times met smiles van oor tot oor.

fokofpolisiekar wynand myburg

Hulle het afgeskop met van al hulle treffers; mense wat van vêr en naby gekom het, het elke liewe woord harder as Franna gesing – dit was onmoontlik om nie jou stem te gebruik om bewondering te wys nie. Klipharde vibes! Selfs die gofffs wat buite gesit het, het saamgesing, hulle wou dit nie wys nie, maar ons het julle gesien, ons dierbare vriende van die onderwêreld!

Net so voor die einde van die show moes ek asem skep. My bene was moer toe, driekwart van my dop lê voor die stage op die grond, en my ore tuit. Ek bewonder die optrede van agter, en kan net nie ophou glimlag oor Fokofpolisiekar nie. Ons is donners gelukkig dat ons in hulle era leef, om hulle in lewende lywe te kan sien, en om actually saam met die manne te kan kuier voor die tyd. Bietjie kakpraat voor hulle, hulle besigheid op die verhoog doen. Dankie Franna, Wynand en die manne, dit was asemrowend om julle weer te sien, en asook die ander musikante wat voor die tyd gejol het – julle het die party begin!

Dis vroegoggend, ek sit in die kar terug van RAD. Die musiek is kliphard, daar is fokkol karre op die pad, ons sing saam “Vernietig Jouself” op die hoofweg, rook word by die venster uitgeblaas in die nag – die lewe is goed.

Fotos deur die man, Henry Engelbrecht.

skyn heilig bier