Suid Afrika se ikoniese musiekfees is om die draai! Oppikoppi 21 is vir ieder en elke musiekliefhebber ‘n “must” in Suid Afrika. Die fees vind plaas volgende naweek in Northam, en almal wat dit gaan bywoon is al klaar besig om hulle tente te inspekteer en seker te maak dat daardie verlof goedgekeur is. Om hierdie musiekfees te vier (dis hulle 21ste verjaarsdag, so groot makietie!) het ons met ‘n paar kunstenaars gepraat oor Oppikoppi. Die week het ons vir Francois van Coke genader vir so paar vrae. Hy het geen inleiding nodig nie, hy is die stem agter Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, en hy het ook sy solo album uitgebring wat ‘n massiewe sukses sover is. Indien ons Grieks praat, click hier en download dit nou!

Ons het bietjie met Francois gepraat oor sy set by Oppikoppi, sy beste “wingman” en waar jy moet kuier die jaar by Oppikoppi.

Dankie vir jou tyd Francois! Almal het gewag vir hierdie gesprek. Wat maak Oppikoppi vir jou anders as van die ander musiekfeeste in Suid Afrika?

Oppikoppi is divers, rock ‘n roll en wild soos ‘n jong leeu na 21 jaar. Geen ander fees het ‘n Top Bar nie. Daardie plek is majestic.

Jy gaan die jaar vir die eerste keer optree as ‘n “solo” act by Oppikoppi, is daar enige senuwees wat tans knaag? En hoe anders gaan dit wees as jou vorige optredes by Oppikoppi?

Nee, daar is geen senuwees op die oomblik nie. Ek is baie opgewonde om my nuwe tunes by Oppikoppi te speel. Ek het ‘n kickass band aanmekaar gesit om die tunes saam met my te speel. Dit gaan heelwat anders wees as enige FOKOF of VCK show wat ek by Koppi gedoen het, want dit is meestal nuwe tunes. Ek gaan die solo album van begin tot einde speel. Ek gaan ook een Fokof tune inwerk en hopelik is daar tyd vir ‘n cover ook.
Ek raak altyd senuweeagtig net voor ek op stage gaan by Koppi, want dit is een van my gunsteling shows van die jaar en ek het nog nie een gemis sedert 2004 nie.

Foto deur Hayden Phipps

Foto deur Hayden Phipps

Kan ons enige collaborations verwag waneer jy optree die jaar? Enige verrassings wat die prawns na kan uitsien?

Yes, Karen en Laudo gaan ‘Toe vind ek jou” en “Die Skip” saam met my doen soos op die album. Daar is nog ‘n interessante colab, maar ek gaan dit hou as ‘n verrassing by Koppi.

Jy is bekend vir al jou crazy antics op stage waneer jy optree. Is dit voor die tyd beplan, of gaan jy net met die flow? En was daar al enige beserings opgedoen?

Ek beplan nie enige iets voor die shows nie, ek doen maar net wat ek doen. Ek het al baie beserings opgedoen. Ek het al drie keer steke aan my kop gekry a.g.v. van snye wat ek opgedoen het gedurende shows, ‘n Paar blou oë, en ‘n gebreekte elmboog. Ek het al groter beserings as dit opgedoen by die afterparty na die show.

Watter snit sien jy die meeste uit om te peform die jaar by Oppikoppi, en hoekom?

Ek dink “Toe vind ek jou” gaan lekker afgaan. Dit is sover die grootste tune van my album en mense van verskillende agtergronde en verskillende scenes hou van daardie tune. Kan nie wag om die crowd dit te hoor sing daar nie. Ek is ook lus vir een van die swaarder nommers op die album “Waar daar ‘n wil is”. Ek dink die stof gaan staan as hy gespeel word.

Foto deur Jaco S. Venter

Foto deur Jaco S. Venter

Wat is sover vir jou die beste herinnering van Oppikoppi?

My beste herinneringe is die shows wat ek by Koppi gespeel het. 🙂

Ons weet jy was al by Oppikoppi al ‘n paar keer, wie was sover die beste “wingman” wat jy al gehad het tydens die fees?

Lauren, my vrou, is my gunsteling ‘wingwoman’ by Koppi!

Ons wil net dankie sê aan “Franna” vir sy tyd. Maak seker jy is in die Oppikoppi crowd as hy Sondag om 22:00 die James Phillips verhoog betree!