Jinne, kan jy sê lekker vodka en Red Bull hangover op ‘n Maandag? Met so bietjie Jägermeister tussen in?

Dis presies hoe ek twee weke terug gevoel het na Liefde by die Dam!

Ek het so rukkie lank al uitgesien na hierdie lekker show, na ek laas jaar by my eerste Liefde By Die Dam was! Dit was moerse lekker en ek moes net weer gaan.

Dié jaar op die lineup was ons bederf met Martin Bester, Bouwer Bosch, Koos Kombuis, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties en nog vele meer… Schalk Bezuidenhout sou natuurlik as seremonie meester sy plek inneem by die jaar se gedoente!

Dis Sondag oggend lekker vroeg het ek, my vrou en my pel die pad ingeval. Emmerentia Dam in Randburg was natuurlike die perfekte setting vir ‘n piekniek by die dam met lekker musiek!

Voor ons nou verder oor die musiek gesels, laat ek nou eerlik wees, Schalk Bezuidenhout was natuurlik die beste MC wie die organiseerders nog ooit kom kies! Schalk het regtig homself oortref met sy mad skills! Hy was snaaks, met vuil grappies tussen in, kon die crowd natuurlik vir lank vermaak terwyl die artists besig is om op te set, en was net regtig cool gewees! Nice job, Schalk! Ek koop beslis kaartjies na jou volgende show toe!

Om die dag se vermaaklikheid af te skop, was Martin Bester en sy lekker band eerste op die verhoog! Martin het al sy hits gespeel, insluitend ‘Vir Die Liefde’, en ‘Ek Het Geweet’. Martin het een van sy Kinky Robot hits, ‘Hobie Beach’ ook gejam. Die rock fans is ook getreat met ‘n lekker Guns ‘n Roses cover van ‘Sweet Child ‘o Mine!’ Heel toevallig het ek my Guns ‘n Roses hemp aangehad!

Bouwer Bosch was kort daarna op die verhoog met sy band van drie jazz studente van Pretoria! Bouwer was regtig ‘n fees om te check. Bouwer het baie van sy treffers gespeel, insluitend ‘Skatkis’ wat jy nou op Jacaranda kan hoor! Bouwer het ook een van hom en Deon Meiring se Dans Dans Lisa songs, ‘My(eks) kuus’ gespeel en dit het my terug gevat na daai dae!

Teen die tyd het Emmerentia heelwat voller begin raak met meer en meer mense wat elke paar sekondes deur die hekke gaan. Het ek gesê dit was ‘n sold out show? 9000 mense wat saam die dag kon geniet! Well done aan die organiseerders!

Volgende op die verhoog was dit Bongeziwe Mabandla! Ek het geen idee gehad wie die man was tot Liefde By Die Dam nie. Ek moet sê, ek het dit moer baie geniet! Hy is ‘n uitstekende muso en het ‘n blerrie amazing stem! Bongeziwe het ook ons getreat met twee slow, acoustic covers van ‘Forever Young’ (weet nie of ons lesers Alphaville ken nie) asook Outkast se ‘Hey Ya!’

Een van my favourite Suid Afrikaanse musikante, Koos Kombuis was volgende om die stage te betree en ALMAL het saam gesing! Koos het al sy ou gunstelinge gespeel insluitend ‘Kytie’, ‘AWB Tiete’, ‘Johnny is nie dood nie, en ‘Lisa Se Klavier’.

Seker so 4 dubbels vodka en Red Bull en twee shots tequila in, is dit Karlien van Jaarsveld se beurt. Karlien het die crowd van seker so 7000 mense teen die tyd aan die dans gehad met liedjies soos ‘Dans in die reën’, ‘Geskeurde Jeans’, en ‘Sing Vir Liefde’. Karlien het ook ‘n baie awesome cover saam haar band gedoen van Van Halen se ‘Jump’! Presies wat ek nodig gehad het om nie te getrek te raak so vroeg in die dag nie.

Ek kon nou nie meer wag vir Die Heuwels Fantasties en Francois van Coke nie, maar eers was dit Elvis Blue se beurt. Elvis het die crowd lekker aan die geskoffel gehad. Op sy setlist was natuurlik een van sy grootste hits, ‘Toe Ons Jonk Was’.

Niemand kon Emmerentia voorberei vir hoe lekker Die Heuwels Fantasties gaan wees nie! Dit was regtig een moerse lekker set met AL hulle beste songs! Ek het wel eers die volgende oggend gesien dat ek ‘live’ gegaan het op Facebook tydens ‘Pille vir Kerfees’. Soos dit natuurlik is, gaan ons altyd ‘n colab sien wanneer Francois van Coke op dieselfde lineup as Die Heuwels is. Francois join vir Pierre en die manne en doen ‘Sonrotse’ van Die Heuwels se heel eerste album!

Die headliner, Francois van Coke en sy band, Die Gevaar is volgende op stage om die dag af te sluit. Ek het teen die tyd vergeet op hoeveel dubbels vodka ek is, maar ek gee nie om nie. Francois speel ALLES wat bekend is van hom, insluitend sy grootste hit to date, ‘Toe Vind Ek Jou’. Francois het ook ‘Dit Raak Beter As Jy Ouer Raak’, ‘Tot Die Son Uitkom’ en ‘Die Wereld is Mal’ vir die stampvol crowd gesing. Hunter Kennedy join toe vir Francois op stage om Fokofpolisiekar se ‘Skyn Heilig’ saam hom te sing. Nostalgie kwadraat!

Nou, indien jy onder ‘n klip bly, sal jy weet dat Francois van Coke en Vriende sal plaasvind by die Time Square Arena by Menlyn Maine op die 15de September. General standing kaartjies is sold out maar jy mag dalk nog ‘n seated ticket score!

Francois van Coke het saam ‘n paar van sy tjommies ‘n paar songs geskryf en record en dit is op die nuwe Francois van Coke en Vriende EP. Francois en Pierre Greef het ‘n song saam record, ‘Ek Lewe Ek Belowe’ en Pierre het vir Francois gejoin op stage om saam hom die song te doen. Dit was elektries en befok en alles wat ek nie kan beskryf nie en ek kan nie wag vir die 15de September nie!

Francois en Die Gevaar het afgesluit met een van my favourite encore songs ooit en dit was ‘Fight for your right’ van Beastie Boys. “To paaaaaaaaaaaaaarty!”

Nou ja toe, Maandag oggend was swaar gewees om op te staan vir werk, maar dit was elke oomblik se kopseer en kak werd!

As jy hierdie jaar uitgemis het op Liefde By Die Dam, moenie worry nie. Ek is seker hulle sal volgende jaar terug wees. Dink solank aan ‘n verskoning vir die Maandag aan jou werk. Ek wens ek het aan een gedink voor die show!

Aan almal wie betrokke was met Liefde By Die Dam, great job! Dit was regtig ‘n moerse lekker jol en ek sien julle weer volgende jaar by Emmerentia!