Francois van Coke en sy “nuwe” bende het Saterdag ons kom vermaak in Snortoria by Aandklas. Dit was ‘n tipiese Saterdag: bier, my dame, en ‘n oorvloed van goeie musiek. Ons het Aandklas betree en sommer al vroeg-vroeg ‘n klein brouery se alkohol gekoop om ons siele reg te kry vir Franna en sy makkers. Dit wil mos gedoen word! Dis immers die einste Francois van Coke!

Ek was nou al by moer baie vertonings van Francois en sy bendes, en elke liewe keer is ek opgewonde om die Bellville-manne te sien. Doppe in die lug, en sigaret in die bek. Right! Kom ons baljaar!

Maar eerstens was dit Mike Bouwer aan die beurt met ‘n tipe van ‘n solo vertoning. Hy het die gehoor aan die gang gekry deur covers te jol, en sy lyf in suggestiewe maniere te beweeg. Die gehoor het dit als ingevat, en ek was nogal impressed met die man. Niks fout met die performance nie. Die bier het so bietjie geroep voordat Franna-hulle op die verhoog gekom het. ‘n Bietjie (baie) bier om die lyf lenig te kry en die stembande op te warm, want vanaand gaan ek my longe uit my borskas sing.

Voordat die hoofseun aan die beurt was het Aandklas eers vir ons ‘n oulike video gewys op die grootskerm. Kinders, julle moes dit beleef. Die man van die oomblik in Aandklas vroeër die jaar, so 4 uur die oggend. Tafelspring is ‘n rowwe ding as jy so paar voor is. Van lekker lag kom lekker huil. Eina fok!

Terug by die vertoning. Hulle het begin met ‘n paar “nuwe” songs van Francois van Coke se solo album, en die gehoor het dit goed ontvang… Wag nee, hulle het mal gegaan – al was die sound so bietjie shitty in die begin. Geen kwel! Hulle het voortgegaan asof als piele nog is. Ek gaan dit bietjie afbreek in seksies soos ek dit onthou het (donnerse bier euwel) en wat gebeur het soos deur die gehoor se oë:

Foto deur Pierre Brink

Foto deur Pierre Brink

Die Skip: Toe die inleiding begin het almal geweet wat wag. Die Skip! Die hele orkes het sommer gelyk of hulle dit dig om hierdie tune te jam vir die crowd. Ons almal het saamgesing aan hierdie nuwe single van die debuut album. Almal was hande in die lug en doppe het gevloei. ‘n Lekker nommer vir ‘n rustige dag langs die see met ‘n cocktail op die sand. Aaaahhh… maar hierdie was Aandklas, en dis Francois. Dit was hard, rook in die lug, en ‘n gesweetery all up in your face. Dit was hoe dit moet wees vir een van die enigste kuierplekke nog oop in Hatfield (RIP) – die makietie was aan die brand!

Smells Like Teen Spirit: Is ek by die regte show? Het ek in ‘n time machine in gebliksem? Nee wat champ! Jy was hier vir ‘n mamoerse goeie cover van Nirvana se ‘Smells Like Teen Spirit.’ Kurt Cobain het seker ‘n duidelike shap in sy kis gegooi toe hy dit hoor. Jinne! Mense het gespring, oor mekaar geval, en volle bors gesing. Is Nirvana weg? Nee, Kurt se rock-siel het ons vir ‘n oomblik besoek! Die hele band het die song justice gedoen. Niks fout; nie ‘n beat gemis nie. Ek was impressed, die crowd was impressed, en Franna het op die reling gepronk soos Simba!

Skree: Een van daardie ‘fuck you’ snitte. Sit jou dop in die lug, dit is tyd om te rus! Doppe in die lug – check. Tyd om te rus – naddafok! Ons is hier om te makietie, en makietie het ons. ALMAL het saamgesing op die song. Die bewonderaars was op die tafels, gespring en gedans soos in die ou dae. Niks terug gehou nie! Ek het selfs so een of twee bruh’s gewaar wat tjank toe die song sy hoogtepunt bereik. Een van hulle het sekerlik ook geklimaks. Skree was die perfekte song vir die Saterdagaand: Môre is ons dalk flou en bejammer onsself. Sal weer voorwaardes stel, maar vanaand vat ons vlam! Skree so hard as jy kan ‘Fok Jou’

Ek Skyn (Heilig): ‘n Oorweldigende gunsteling “cover” van Fokofpolisiekar wat die gehoor mal gemaak het, een van die beste liedere van alle tye in my opinie. Ek Skyn (Heilig) se live uitvoering is om van te droom. Dit was mooi, broodnodig vir die siel en het Franna en sy bende ons in ‘n tydlose oomblik laat invaar… alle sorges by die huis gelos, ons was hier om goeie musiek te aanskou. Die Fokof-vibe was orals in die lug – jy kon die ruik, voel en hoor!

Tot Die Son Uitkom: Ek het ‘n traan in my oog gehad toe hulle hierdie asemrowende snit van Van Coke Kartel afgeskop het. Ek was emosioneel. Die gehoor was in ekstase. Sekerlik in die Top Tien songs wat jy live moet hoor. Skryf dit op jou bucket list. NOU!

Moontlik Nooit: Een van my gunsteling songs van sy album. Moontlik Nooit het die opvoering nog een trap hoër gevat. Francois het teen hierdie tyd al op die reling gestaan en aan die dak vasgehou om die crowd te treat met sy mannewales. Die kitare en backing vocals se samewerking was vet pret en ‘n rock-meesterstuk van formaat. Ek moet sê dat ek teen hierdie tyd nog nie een keer stil gestaan het nie, en dat my bene en arms aan die musiek behoort het.

Toe Vind Ek Jou: Die crowd favourite. Almal het gewag vir die ene. Jedd het Karen se rol vertolk, en nie ‘n slegte weergawe gedoen nie. Jedd kan ook sing indien julle nie geweet het nie. Die gehoor het mal gegaan toe die kenmerkende riff begin het, die lied het sommer aan die hartsnare getokkel! Fokkit! Die crowd het in totale ecstasy verander. Ieder en elk het die verhoog benader om ‘Toe Vind Ek Jou’ in lewende lywe te sien. Francois het sy alles gegee vir die ‘love song’ en die emosies het gevloei! Ringo en Lauren, daardie ene was vir julle!

Dit was sekerlik weer een van die beste performances deur die manne van die Kaap, weereens was ek weggeblaas deur hoe hulle ‘n gehoor kan opwerk en hulle aandag hou tot en met die einde. Sien julle volgende keer! Ek moet ‘n pluimpie gee vir die res van die orkes, julle het elke lied gekill! Wel gedaan!

Francois van coke aandklas

* Cover photo by Jaco “Snake” Venter.

Verskoon my selfoon foto, ek is nie ‘n fotograaf se gat werd nie.