Konsert en kuier gaan hand aan hand, en handjies vashou is mos Liefde. Vanjaar vind die gewilde Liefde by die Dam op Sondag 5 Augustus plaas – weer by Emmarentia Dam, een van Suid-Afrika se mooiste konsert-tuine. Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die pro-gram sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud;`n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of `n lekker dag uit saam met jou “besties.”

Sewe top SA kunstenaars deel vanjaar die Liefde by die Dam verhoog: Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Francois van Coke, Koos Kombuis, Elvis Blue, Bongeziwe Mabandla, en Bouwer Bosch. Seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou.

Mag Liefde bly wen! Kom deel in `n heerlike, gesellige musiek-dag by die dam – bring piekniek mandjies. Daar sal ook `n verskeidenheid kosstalletjies wees.

Datum: 5 Augustus 2018
Tyd: 10VM – 6NM
Plek: Emmarentia Dam, Johannesburg

Kaartjies by Computicket:

R165 Aanlyn / Kinders 12 jaar en jonger: R75 / Onder 3: Gratis.

Spesiale kaartjie aanbieding:

VIP kaartjies: R595 – sluit VIP ingang, spesiale sitplekke naby verhoog, gratis drankies en versnapperinge.

Ek het ‘n bietjie met Bouwer Bosch gesels oor die fees, flieks en Liefde Wen:

Hey Bouwer! Thanks vir die chat! Jy is by Liefde By Die Dam die jaar. Jy opgewonde om die jaar die stage te vat?

Ja ongelooflik opgewonde. Dit is nie elke dag wat jy die verhoog met van die land se grootste kunstenaars deel nie so hierdie is ‘n groot voorreg om deel te wees hierdie jaar.

Jou Liefde Wen inisiatief is ook baie betrokke die jaar. Wat beoog jy om te bereik met Liefde Wen se betrokkenheid by Liefde By Die Dam?

Ek dink die plan nog altyd is maar om te kyk hoe mens by ‘n fees soos LBD ‘n kultuur kan kweek van gee. ‘n Kultuur waar mens weet jy is daar vir meer as net die musiek maar ook om te wys dat musiek ‘n baie powerful medium is vir mense om saam te kom.

Behalwe vir Liefde By Die Dan doen Liefde Wen klomp ander great stuff! Hoe het die catchphrase “Liefde Wen” in so lekker brand verander? Was dit jou plan van die begin af om ‘n catchphrase in n brand te omskep?

Liefde Wen is hierdie jaar 11 jaar oud so toe ek ‘n eerste jaar student was in Potch sou ek nooit gedink het dit sal wees wat dit vandag is nie. Niks gebeur oornag nie en ek het al geleer dat jy jouself moet omring met mense beter as jy vir als om beter te raak so Liefde Wen het ‘n ongelooflike span mense wat die hele brand maak werk. Van die begin af was die plan om die boodskap van Liefde Wen uit te kry om ‘n kreatiewe manier. Ek het dit gekoppel aan Straatligkinders se brand in die begin en dit het net natuurlik gegroei van daar af in meer as net ‘n logo.

Van Straatligkinders, tot Dans Dans Lisa, tot Bouwer Bosch… baie exciting journey en transition. Geniet jy die solo kunsternaar vibes?

Ek moet sê ek geniet dit baie, dit is baie meer uitdagend as wat ek gedink het. Ek het gou geleer dat ek nogal alles kan overthink en soms my eie vyand ook is met die goed wat ek probeer doen of al gedoen het. Deesdae skryf ek net om te skryf, ek het bietjie laat gaan van die pressure om heeltyd te fokus op al die faktore wat buite jou beheer is in jou loopbaan so deesdae probeer ek net musiek vir ‘n slag eerste sit.

Jy en Leandi du Randt het nie te lank terug getrou nie. Hoe behandel die getroude lewe julle?

Ek dink alle verhoudings(romanties of vriendskappe) gaan oor groei en genesing en dit is wat ons embrace en waardeer van die getroude lewe. Ons leer en groei nog baie as individue en saam ook wat dit baie opwindend maak.

Jy is nie net ‘n musikant nie, maar ook betrokke in die film bedryf. Hoe juggle jy sulke besige leefstyl?

Die ding met films is dat dit ongelooflik lank voor die tyd beplan word so as mens ‘n google calender kan bemeester dan is jy halfpad daar. Dit gaan ook oor wat ek vroeër gesê het, kry mense om jou wat beter is as jy in sekere goed en met die films het ons ‘n great mentor en vennoot Danie Bester wat ons lei en help met hierdie goed so alles kom maar net neer op beplanning. Ek dink ook sosiale media gee die indruk dat mense konstant besig. Ek moet wel sê dat ek vir nou eers klaar is met films, ek mis musiek te veel so ek wil vir die volgende paar jaar net eers weer op musiek fokus.

Gepraat van films, jy en jou vrou is die twee hoofsterre van Thys en Trix. Vertel ons bietjie van die nuwe movie?

Dit was ‘n ongelooflike lekker projek gewees. Quinton Krog is een van ons gunsteling regisseurs en om saam hom te kon werk was ongelooflik. Bugsy Barns(Tweak en Crash Car Burn se drummer) was die kinematograaf en hy is een van my gunsteling musikante in SA so dit was ‘n great span gewees en dit help altyd as jy ‘n span het van mense wat ongelooflik goed is in wat hulle doen. Die fliek gaan oor ‘n broer en ‘n suster in die polisiemag wat mekaar nie kan verdra nie maar moet undercover gaan as ‘n getroude couple om ‘n dwelmsindikaat te gaan vang. Aksiekomedies is ‘n genre wat mens nie baie kry in SA nie en ons wou na Vuil Wasgoed nog een aanpak met ‘n ligter komedietoon.

Jy is baie betrokke by die King Price ads en dis vrek snaaks! Wie kom met die ads se konsepte op?

Ek en Bennie Fourie doen al vir die laaste 3 jaar klomp aanlyn sketse vir hulle en dit het stelselmatig in iets groter verander. Die trekker advertensie met die boer is ‘n grappie wat Ben se pa vir hom vertel het en die lobola een het ons saam met ‘n vriend van ons Stephan Bredelll uitgedink toe ons in Dullstroom was een naweek. So ons skryf maar heeltyd neer as iets snaaks gebeur en ons bounce maar idees gereeld van mekaar af om te kyk of dit werk of nie. So dit is maar ‘n groot spanpoging omdat ek en Bennie dieselfde sin vir humor het.

Terug by Liefde by Die Dam, wat kan die crowd van jou verwag met jou set?

Ek het die voorreg om met ‘n awesome band te speel, 3 Jazz studente van Pretoria so dit maak die show altyd pret want hulle laat my baie sleg lyk, haha maar my show is net ‘n laidback een waar jy net kan terugsit en saamsing as jy sou wou en jouself opwarm vir die groter kanonne later die dag.

Laastens, ek was n groot Straatligkinders fan! Kan ons ooit ‘n reunion verwag?

Haha, baie dankie dat jy fan was. No Comment op die tweede deel van jou vraag. haha, nee kyk ons het nooit gesê dis verby nie, ons het net ‘n breuk gevat en nou is ons nogsteeds op ‘n breuk. Die uitdaging is maar hoe baie verander in almal se lewens vandat ons 5 jaar terug ‘n album uitgebring het so ons sal maar kyk wat in die toekoms gebeur maar op die oomblik fokus ek op my solo goed en al die ander manne het baie opwindende projekte op hulle tafel.